Ons president, Barbara Nell se storie

Ek was bevoorreg om in ‘n VLU-huis groot te word. Ek onthou dat my ma altyd besig was om iets te maak. Sy het elke nuwe projek met oorgawe aangepak. Kursusse en nuwe vaardighede is aangeleer en van haar beste vriende was haar mede-VLU-taklede. My ma het op die takbestuur gedien en ek onthou goed hoe haar besonderse houtsneewerk ‘n ereplek by die Pretoria skou gehad het. Vir my was die VLU iets wat my ma verryk het. Ek het geglo en ek weet steeds dat my ma alles kon doen.


As jong volwassene wat baie uitstedig was het ek self by die VLU aangesluit om iets saam met my ma te kon deel. Dit was ‘n kortermynplan. Min het ek geweet dat ek 25 jaar later steeds deel van hierdie organisasie sou wees. Aanvanklik het ek, wanneer ek kon, saam met my ma die aktiwiteite bygewoon. Voor ek my oë kon uitvee was ek takvoorsitter en my geliefde ma was my sekretaresse.


My ma was so trots toe ek bly VLU aansluit. Ek het nie haar talente gehad vir brei, hekel en borduur nie, ‘n naaldwerkmasjien en ek ontmoet per geleentheid. Handvlyt, fotografie en so ‘n bietjie kuns bly vir my ‘n heerlike uitdaging.


Onbepland het my reis deur die VLU my geneem tot by die president van VLU Overvaal. Wat ‘n voorreg om deel te wees van bekwame omgeevroue. Vroue wat hulle talente en vaardighede vrylik deel. Vroue wat deur hulle passie en omgee vir ander ‘n groot invloed op die Suid-Afrikaanse landskap, soos ons dit vandag ken, gehad het.


My ma het in 2022 haar 50 jaar lidmaatskaptoekening ontvang, ongelukkig is sy kort daarna oorlede. Terwyl ek deur die geskiedenis van ons wonderlike organisasie lees mis ek my ma verskriklik. Tog besef ek dat sy my deel gemaak het van ‘n organisasie met wonderlike vroue met omgeeharte wat woeker om die wêreld ‘n beter plek te maak vir haar geliefdes en die samelewing in die breë, ‘n organisasie wat soveel geleenthede vir elke vrou bied om haar talente te ontgin en om soos my ma, en ook ek, baie goeie vriendinne vir ‘n leeftyd te maak.


Ek kyk met nuwe oë na die wonderlike VLU-vroue wat oor 100 jaar ‘n vroueorganisasie geskep het, wat daadwerklik ‘n verskil maak in ‘n vrou se menswees en in die gemeenskap.


Ons tema vir 2025 is Wees die Verskil en dit is iets wat VLU Overvaal-vroue uitleef. Baie dankie dat ek bevoorreg kan wees om ‘n lid te wees van hierdié organisasie.